Die dag wat ek jou gevind het
Sy weergawe
2 Julie 2020, net ná Covid. Ek en my neef het buite in sy agterplaas gestaan toe ek deur my Facebook gescroll het. Skielik sien ek ’n foto van ’n meisie wat ek al lankal geken het. Sy hou haar arm uit soos iemand wat wag dat ’n kêrel langs haar staan vir ’n foto, en bo-op haar arm sweef ’n wit wolkie met die woorde: “Boyfriend position available.” Ek het gesmile, gelag en my neef, Morne gevra of ek haar n boodskap moet stuur. Sy antwoord was kort en kragtig: “Ja!” Paar minute later stuur ek vir haar: “Hey, kan ek jou nommer kry?” Sy antwoord nie met ’n groet nie – net haar nommer. En so begin ons gesprek. Op 5 Julie 2020, omstreeks 13:30, ry ek na haar huis toe vir koffie. Ek was skaam en stil, maar sy… sy was asemrowend. Haar stem, haar oë, haar lag – ek was verlore. Ek het besef dis cliché om te sê, maar dit was waar: sy het soos ’n engel gevoel van die eerste oomblik af.
Haar weergawe
2 Julie 2020. ’n Dag soos enige ander – totdat my Facebook Messenger ping met ’n boodskap van ’n ou skoolvriend. Met die eenvoudige woorde: "Hey, kan ek jou nommer kry?" Nou kyk, meeste mense sou dalk eers 'n "Hallo" of ten minste ’n emoji gooi, maar nie ek nie. Ek drop toe net my nommer soos ’n koel kat sonder ’n greintjie opgewondenheid. Geen "Hey daar", of "Dis lanklaas", niks. Net my nommer. 3 dae later.... Hy’t gesê hy wil kom vir koffie. Die afspraak was vir die oggend. Ek sit en wag. En wag. En wag. Dit is al na 13:00. Maar Max is nerens. Uiteindelik – ná ek al my derde koppie koffie klaar gehad het – kry ek ’n boodskap: "Sorry, ek help my sussie met iets." En ek dink: "Ag toe nou – as jy nie wil kom nie, sê dit net!" Maar toe’n paar minute later, toet-toet by die hek. Dis Max. Hy klim uit die kar uit: mussie op sy kop, lang krulhare wat lyk soos iets uit ’n 90’s boyband, ’n broek wat amper sy eie lewe het van hoe wyd hy is, en tekkies wat lyk of hulle hom dalk later self huis toe gaan dra. (Sy favourite tekkies, het ek later toe geleer) Hy groet my pappa met die woorde: "Hello Oom, lanklaas gesien!" My pa antwoord sonder om te blik of bloos: "Ek het jou nog nóóit in my lewe gesien nie, Outjie." En ek staan daar en dink.....hiers dit nou!!! Maar, die een kuier word twee. Toe drie. Toe hou ek op tel. ’n Paar maande later sê ek vir my mamma – iets wat ek nog nóóit vantevore oor enige ou gesê het nie:" Met dié een... gaan ek trou." En so waar as padda kan sing... Die res is geskiedenis.